EK HET GETREK MAAR

EK HET GETREK MAAR -- JOKE

Ek het getrek maar ek bly nog op dieselfde plek - maar hoe verduidelik ek dit vir mense soos sekretaresses in ander provinsies? Ek wil 'n boodskap laat vir 'n kollega in Mpumalanga. "Vra asseblief hy moet my in Polokwane skakel", sê ek. "Waar?" vra sy en sy klink narerig, asof sy 'n mufgroen pasteitjie uit die pakkie gehaal het. "Polokwane". "Waar is dit?" "Tussen Mokopane en Makhado in Limpopo". Ek kan hoor sy dink ek is of van lotjie getik of het êrens ontsnap. "Waar is dit?" hou sy geduldig vol. Wel, beduie ek, jy ry van Tswane af, verby Bela-Bela en Modimolle. Ry deur die tolhek en hou reguit verby Mokopane, maar hou jou spoed dop want die spiedies maak geld uit jou uit as jy daar te vinnig ry. Polokwane is net na Mokopane en net voor Makhado. Ek verstaan nie mooi waarom ek die pad moet verduidelik as ek wil hê iemand moet my bel nie. "Nee wag meneer" sê sy. "Waar is dié Makhado?" "Tussen Polokwane en Musina" probeer ek hulpvaardig wees. "En waar is dit?" vra sy nou duidelik erg verward.

"Musina is tussen Makhado en Harare" help ek so goed as wat ek kan. "Bly jy in Zimbabwe?" vra sy asof daar skielik 'n lig vir haar opgaan. "Nee", sê ek. "Ek beduie net vir jou waar Polokwane is." "In Zimbabwe?" vra sy hoopvol. "Nee, in Limpopo" help ek haar reg. Sy sug moedeloos en sê: "Kom ons begin voor." Ek dink sy wonder of dit nie Leon Schuster is wat haar met 'n slapriem probeer vang vir een of ander advertensie nie.

"Waar is Tswane?" "Dis maklik" sê ek. "Tussen Bela-Bela en Egoli". "Nee meneer, ek bedoel die dorp". "Ek ook" sê ek. Ek kan hoor sy is nou by sepies terwyl ek nog by pad beduie is. "Egoli is anderkant Tswane as jy van Bela-Bela se kant af kom" sê ek. "Meneer", vra sy, "is jy getrek?" "Nee", sê ek. "Ek het nie getrek nie, hulle het net die naam verander". "Wat bedoel jy hulle het jou naam verander?". "Nie my naam nie, die dorp se naam", help ek haar reg. "Watter dorp se naam?" "Pietersburg". "Bly jy in Pietersburg?" vra sy en ek kan hoor daar gaan nou 'n helder lig vir haar op. "Nee", sê ek "ek bly in Polokwane maar dit was voorheen Pietersburg." "Wragtig?" sê-vra sy. "Wragtig" sê-bevestig ek. "So, jy skakel van Pietersburg af wat nou Polokwane is?". "Einste", sê ek. "Nou watter ander name het jy dan genoem?" vra sy en ek kan aanvoel dié vrou het 'n erge behoefte om iets oor die toekomsgeskiedenis van die land te wete te kom. Toe verduidelik ek: "Egoli was eers Johannesburg. Tshwane is Pretoria. As jy dan Noord ry kom jy by Bela-Bela wat eers Warmbad was, daarna by Modimolle wat Nylstroom was en Potgietersrus wat nou Mokopane is.

Na Mokopane kry jy Polokwane wat Pietersburg was en daarna Louis Trichardt wat Makhado geword het. Verby Makhado kry jy Musina wat eers Messina was." "En Messina is by die Limpopo!" jubel sy. "Ja" sê ek, "maar die Limpopo waarvan ek praat is die provinsie". "Nou wat noem julle die rivier?" vra sy. "Limpopo" sê ek. "Meneer?" vra sy, "stook jy mampoer?"


SO WHAT DO YOU THINK OF THIS JOKE ???



--BACK--